Peter Cleary, beter bekend as mnr Inyanga Motors het sy hand op papier gewaag. Hoewel hierdie nie sy eerste boek is nie, is dit sy eerste fiksie skrywe en ‘n heel aangename ervaring vir my as leser.
In Second Chance ontvou ‘n aksie belaaide, speurverhaal met vele intriges. Liefde oor die kleurgrens wat afspeel gedurende ‘n baie onsimpatieke tydperk in die ou Suid-Afrika toe alles nog in wit en swart gemeet en gemonitor was.
Bart Pringle, die hoofkarakter, is ‘n ruwe, aantreklike, wellustige en onverskrokke joernalis wie se persoonlike lewe en loopbaan al vele hoogte- en laagte punte bereik het. Die storielyn begin waar hy onwillig terugkeer na sy tuisdorp nadat hy nuus ontvang het dat sy pa aan eie hand gesterf het, of het hy? Nie net lê die begrafnisreelings soos ‘n berg voor hom nie, maar hierdie huis wat eens sy ouerhuis was hou geensins goeie herinnneringe in nie. Sy ma het hulle verlaat toe hy en sy suster nog baie klein was en hoewel sy pa weer getroud was, het hy nooit opgehou treur oor die ma van sy kinders nie. Daar is soveel onbeantwoorde vraagstukke en die intrige verdiep by die dag, onder meer nadat hy inligting ontdek wat daarop dui dat dit dalk nie selfmoord was nie, maar wel moord.
Op die koop toe word hy om elke hoek en draai behoorlik geviktimiseer deur ‘n haatdraende en rassistiese poliesieman wat steeds vergelding soek vir Bart se vroeëre beriggewing oor die wreedhede van die veiligheidspolisie soveel jare gelede. Sy nuwe vriendskap met ‘n pragtige Kleurlingemeisie, wat hom geheel oorweldig en ‘n vuur in sy hart en lendene ontbrand, verskaf die wraaksugtige Kaptein van Niekerk met nog meer skietgoed in sy persoonlike vendetta teenoor Bart, sy pa en sommer enige iemand waarmee hul as gesin in aanraking gekom het, hetsy goed of sleg.
Verder word hy gefolter deur terugflitse wat spruit uit sy omstrede verlede en loopbaan as fotojoernalis. Meerendeels foute en gebeure wat hy liefs saam met sy pa sal wil begrawe.
Ek moet eerlik beken dit was een van daardie kannie-neersit-boeke, wat ek deurnag klaar gelees het. Hoewel daar heelwat gekruide taal, naaktheid en seks voorkom is dit in konteks en geensins vulgêr.
Ansia Scheepers – Zululand Fever
Comments are closed.